|
Mercurius, tans na sonsak sigbaar, word elke aand effens makliker om te sien soos dit verder weg van die Son beweeg. Daarteenoor raak Mars moeiliker om te sien, aangesien dit elke aand 'n bietjie vroeër sak. Soek daarvoor kort na sonsak, na aan die horison, onder Mercurius.
Venus pronk steeds in die oggend-hemel en kan gesien word lank na die laaste sterre verdwyn in die opkomende Son se gloed.
In die suide, is die Suider Kruis – of Crux soos sterrekundiges daarna verwys – saans mooi sigbaar. Die meegaande sterkaart wys die suider hemel om en by 20:30. Crux en die Wysers sit hoog in die lug, met die lang arm van die Kruis wat afwaarts wys, in die rigting van die helder ster Achernar.
Onder Crux lê nog 'n kruis, die Vals Kruis. Terwyl Crux 'n sterrebeeld is (een van die 88 amptelike sterrebeelde), is die Vals Kruis bloot 'n ster-prentjie. Laag op die horison, onder die Vals Kruis, is die helder ster Canopus, die tweede helderste ster sigbaar vanaf die Aarde. (Die helderste is Sirius, regs van Orion in die oggend hemel.)
Meeste buitelug entoesiaste weet hoe om rigting te bepaal deur die Kruis te gebruik. Daar is verskeie metodes, maar seker die eenvoudigste is om Crux en Achernar met 'n lyn te verbind, en die middle van die lyn te bepaal. Die punt op die horison direk hieronder is suid.
Nie net gee sterre rigting vir avontuurlustiges nie, maar speel ook 'n belangrike simboliese rol. Sterre (asook die Son en Maan) is byvoorbeeld gewilde simbole op landsvlae. Sterre verskyn op 25 Afrika-lande se vlae, 7 op vlae uit Noord- en Sentraal-Amerika, 19 uit Asië, 7 uit Suid Amerika, en 11 uit Australasië en die Suidsee-eilande. Interresant genoeg het geen Europeese landsvlag 'n ster nie.
Aangesien Crux 'n prominente sterrebeeld is, sou mens verwag dat dit verskyn op vlae van lande in die suidelike halfrondte. In Australasië en die Suidsee-eilande word Crux uitgebeeld op sewe van die 11 ster-vlae: Australië, Nieu-Seeland, Kersmis Eiland, Papua Nieu-Guinee, Solomon Eilande, Mikronesië en Somoa. In suiderlike-Afrika verskyn Crux op geen landsvlag nie (ook nie op 'n landswapen nie). Crux is ook afwesig van Suid Amerikaanse vlae.
Die Brasiliaanse vlag is besonders: die sterre wat daarop verskyn is nie bloot simbolies nie, maar is inderwaarheid 'n sterkaart. Dit wys die stand van die sterre oor Rio de Janeiro op die aand van 15 November 1889, toe Brasilië 'n onafhanklike republiek geword het. Die vlag beeld wel suiderlike sterre uit, maar ongelukkig nie Crux nie. Op daardie aand het die Son om 18:15 gesak; toe het Crux alreeds gesak. Teen 23:00 was die Vals Kruis sigbaar, maar Crux was nogsteeds onder die horison; dit sou eers na middernag opkom.
Indien die Brasiliane 'n paar maande vroeër hul republiek gekry het, sou hul vlag nog mooier gelyk het, met die teenwoordigheid van Crux, die kleinste en helderste van al die sterrebeelde in die hemel.
|